1 Babaskoene
Die grondpad van Kleinzee af verby Grootmist en Daantjie Scholtz se diamantmyn, dan langs Wolfberg se satelliet-polisiestasie verby en Spektakelberg oor, Springbok toe, is ’n lelike sinkplaatpad. Oor hierdie einste sinkplaatpad het die Namakwalanders al stories vertel wat van geslag tot geslag oorgedra is. Elke storie het ’n stertjie bygekry waarin die verteller die pad erger maak as die een wat die luisteraar self ervaar het. Maar dat hy erg is, is nie te betwyfel nie.
Die ou Namakwalanders het geglo dat as jy die pad tussen Kleinzee en Springbok in ’n ’48-Chevrolet wil aanvat, jy bereid moet wees om op jou tande te byt, eerstens om te keer dat jou valstande nie uitval nie. As jy dan nog jou eie tande gehad het om op te byt, byt jy in ieder geval maar vas sodat jou kakebeen darem as ’n soort skokdemper teen die geklapper van die Chevrolet se shocks deur jou skedel kan dien.
Kleinzee het in die jaar 1952 nog nie die luukse van ’n hospitaal gehad nie. Die diamantmyndorpie het ’n stofhoofstraat gehad, met ’n paar huisies vir die getroude mynwerkers en enkelkwartiere vir die ongetroude mans, en dalk vir ’n dame of twee, wat maar net ’n onderwyseres of ’n verpleegster kon wees. Die eetsaal van die enkellopers of mess soos die myners hom geroep het, het sommer as eetsaal, danssaal, bioskoopsaal, vergaderingsaal en saal waarin ook sommer skoolgehou is, diens gedoen.
Vanweë die erg beperkte mediese geriewe in die Kleinzee van 1952 was dit voorwaar ’n probleem as ’n man skielik mediese sorg benodig het wat bokant die plaaslike verpleegster, of Johnnie Sherman, die mediese verpleër, se vuurmaakplek was. Die ambulans moes jou in so ’n geval Springbok toe vat. Port Nolloth was nader as die 120 kilometer Springbok toe, maar die mediese fasiliteite daar was ook nie juis waffers nie. Al genade was dan maar daardie sinkplaatpad, Spektakelberg oor, Springbok-hospitaal toe. Jy moes maar net bid dat jy nie agter in daardie ambulans met ’n gebreekte been beland nie, want daardie 120 kilometer sinkplaatpad sou jou gewis nie van die gebreekte been laat vergeet nie.
So by so was die einde van Rita Stemmet se swangerskap ook in sig hier teen die agtste Februarie in daardie goeie blomjaar van 1952. Gawie Stemmet, of Stemmie, soos hy bekend gestaan het, sit verlof in om Rita Springbok toe te vat vir die kraamslag. Johnnie Sherman is nie die man vir die takie nie. Dis nou nie dat hy nie opgewasse was nie, maar hy was uiteraard ’n huisvriend en dit sou mos nie deug of fatsoenlik wees dat hy die baba vang nie. Die verpleegstertjie kon ook nie juis met enige vroedvrou-ervaring spog nie, en van alternatiewe was daar nie sprake nie. Voorland vir Rita was die sinkplaatpad oor Spektakelpas, Springbok-hospitaal toe.
Die baba se datum is op 11 Februarie gereken, maar daar is nie met die berugte sinkplaatpad tussen Kleinzee en Springbok rekening gehou nie.
Stemmie pak op die middag van 8 Februarie 1952 die 120 kilometer Springbok toe aan met ’n 1939-vierdeur-Hudsonsedan. Op die eerste skof verby Grootmist, al langs die Buffelsrivier af, gaan dit nog redelik, maar hier van Wolfberg af begin die sinkplaat al meer die rol van induseermiddel speel. Toe die Hudson Spektakelberg se eerste steilte vat, begin Rita al hoe duideliker sien hoedat die elfde Februarie darem maar ver lê.
Die Hudson kom na wat soos ’n leeftyd voel, die huidige situasie in ag genome, om sesuur die middag van 8 Februarie 1952 in ’n stofwolk voor Springbok se hospitaal tot stilstand. Die sinkplaatpad het sy ding deeglik gedoen en elf ure later, pleks van die gerekende twee dae vorentoe, sien die baba sy eerste lig. Dokter Basson doen die nodige vangwerk, want pa Stemmie was maar ligvoet vir dokter Bakker. Ek is die tweede seun van die diamantdelwer, Stemmie Stemmet en Rita. Francois, die eersgeborene, het vier jaar vantevore dieselfde paadjie geloop, of liewer die sinkplaatpad gery.
Daar word vir my vertel dat ek glad nie geskree het met my geboorte nie. Glo net my oë oopgemaak en die wêreld so bekyk. Drie-en-vyftig jaar later het ek die voorreg gehad om in die einste vertrek in die Springbok-hospitaal te staan. Dit was ’n aardige gevoel om te dink dat ek my eerste asemteug êrens in daardie vertrek gegee het.
Een van my eerste herinneringe is van ’n sekuriteitsman op ’n perd wat pos by die huis op Kleinzee kom aflewer het. Kleinzee was ’n De Beers-diamantmyn aan die Namakwalandse kus: spergebied, net noord van Hondeklipbaai en net suid van Port Nolloth. (Die myn self is so paar jaar gelede gesluit. Die dorp staan nog . . . verlate en besig om heeltemal vervalle te word.)
As jy eers in die dorp is, is jy in. Die drade om die dorp is deur sekuriteitsmanne op perde, almal ekspolisiemanne, gepatrolleer. Hulle patrolleer om te sorg dat wie buite is buite bly, en wie binne is binne bly, en dat niemand met ’n klippie of twee probeer uitsluip nie. Jou persoonlike voertuig staan buite by die hek. As dit jou verloftyd is, word jy deur die sekuriteit hek toe vergesel waar jy deur X-strale ondersoek word om seker te maak dat jy met leë hande die dorp verlaat. Dan koppel jy jou persoonlike motor se battery en vat die langpad beskawing toe vir jou jaarlikse drie weke verlof.
Verder onthou ek skoene wat ek in die veld laat lê het en my ma wat my al rasende aan die hand veldin sleep sodat ek haar kan wys waar ek die skoene laat lê het. Ek onthou die ooptes om die dorp. Die vryheid van beweging tot by die sperdraad – tot hier toe en nie verder nie! Ek onthou die see. Langbaai, Kykkrans, Stinkhoek met sy stink bamboes. Ek onthou oom Pieter Brand wat by die kragstasie gewerk het en die motorfiets waarmee hy rondgery het. Jare later, ná oom Pieter se dood, toe die motorfiets op die skrootwerf beland het, het ons gereeld op die geroeste raam gaan speel en ons verbeel dat ons motorbike ry. Oom Pieter se hartaanval was my eerste kennismaking met die dood. Tant Lenetjie het verskriklik gehuil en ons was baie bang.
Ek onthou die harderstrek by Kykkrans. Die hele dorp het gehelp om die nette in te trek en dan is die harders onder almal verdeel. Ek onthou hoe ek eenkeer erg aan hardergrate verstik het, en tot vandag toe pes ek vis met grate in. Ek onthou hoe die hele dorp op die strand gebraai het tydens die hardertrekkery. Elkeen bring sy eie vleis. Almal maak saam kole. Ek onthou hoe die hele dorp by die brug oor die Buffelsrivier na die myngebied bymekaargekom het as die rivier een maal elke hoeveelste jaar afgekom het.
Van hier af word die terugflitse duideliker en begin insidente meer as herinneringe uitstaan wat al hoe meer deel van my verhaal vorm.
|